Lande om te besoek
 

België

België is een van die kleiner lande in Europa, tóg bied dit 'n verfrissende verskeidenheid aan die besoeker. In die suide is die Ardenne woud wat strek oor golwende heuwels; naby die Noordsee is die Vlaamse stede Ghent en Brugge, omring deur die pragtige platteland. Vir Afrikaners is dit betreklik maklik om met die Vlaamssprekende Belge in die noordelike streke te kommunikeer. [België] [fietsry]

Duitsland

Die geskakeerdheid van die Duitse landskap verras dikwels die besoeker. Weg van die groot stede af vind 'n mens steeds die ou beeld van Duitsland as 'n land van klein dorpies met pragtige houthuise. In die Beierse Alpe of in die pragtige Swartwoud kan 'n mens jou "wanderlust" bevredig en jy kan per fiets langs die beroemde Rynrivier ry. Die Bodensee vorm 'n dramatiese knopingspunt vir drie lande: Oostenryk, Duitsland en Switserland. Die gematigde klimaat en die Mediterreense atmosfeer gee aan die gebied om die Bodensee 'n spesiale karakter en maak dit ook 'n treffer vir fietsryers van regoor die wêreld. Die goed uitgelegde fietspaadjies loop meestal langs die oewer van die meer en deur die pragtige landskap en bied oral asemrowende natuurtonele. [Duitsland] [stap] [fietsry]

Frankryk

Frankryk bied 'n ongelooflike verskeidenheid van landskappe. In die Loire-vallei, die sogenaamde "Tuin van Frankryk", is honderde indrukwekkende kastele en paleise te sien. Die bekende wyne van Boergondië is vandag 'n integrale deel van die land se gastronomie. In die suide is die Midi bekend om sy wit gekalkte huise en ongelooflike blou hemel. En Provence is 'n ervaring op sigself wat elke sintuig van 'n mens laat oortyd werk: wingerde en olyfboorde strek oor heuwels en deur valleie en die hange is oortrek met laventel en mimosa. [Frankryk] [stap] [fietsry]

Engeland

Die Cotswolds is alombekend as een van die mooiste dele in Engeland: sagte groen heuwels met prehistoriese en Romeinse ruines, die Severn Vallei en die Vale of Evesham. In Oos-Anglia is die veen-vleie van die suidelike Fenne en die waterryke Broads in die noorde 'n toevlug vir wild en voëls. Klein stegies en smal paadjies neem jou deur middeleeuse dorpies met ou kerke, statige wonings en kothuise met grasdakke en roostuine. [Engeland] [stap] [fietsry]

Holland

In storieboeke word die Hollandse landskap dikwels uitgebeeld met melkkoeie wat wei en 'n windmeul in die agtergrond, plate lenteblomme en velde omsluit deur dyke. In die stil platteland is dit vandag nog steeds die geval. Nederland, soos die land meer formeel bekend staan, is by uitnemendheid 'n land vir fietse en fietsryers. 'n Toevoeging tot die omvattende netwerk van fietspaadjies en bane sonder motors, is die land se uitgebreide netwerk van kanale en waterweë. Omtrent elke deel van Holland kan per fiets of boot bereik word. Geen besoeker sal die groen Hollandse landskap met sy stil paaie en klein dorpies ooit vergeet nie. [Holland] [fietsry]

Italië

Die lewendige atmosfeer, rykdom aan kuns en argitektuur, die lus vir die lewe, en die ongelooflik lekker kos en wyn bekoor elke besoeker aan Italië. Toskane is die grootste streek in Italië en seker dié mees gevarieerde - sagte heuwels met silwergrys olyfboorde en netjiese wingerde sover as wat die oog kan sien. Die kleiner stede het almal 'n lang interessante geskiedenis en die meeste spog met monumente uit glorieryke dae. Umbrië, wat ook bekend staan as die "Groen Hart van Italië" is 'n erkende wonder van die Skepping waar die natuur seëvier oor menslike kundigheid. Dis 'n wonderwêreld van berge, heuwels, valleie en vlaktes, riviere en mere. Dié deel van Italië se bekoring op die besoeker is so subtiel dat dit nie in woorde beskryf kan word nie. [Italië] [stap] [fietsry]

Oostenryk

Vir die natuurliefhebber is Oostenryk voorwaar 'n paradys met asemrowende panoramas in 'n onbesoedelde omgewing. Die groot verskeidenheid natuurtonele wissel van die Alpe in die weste tot by die Hongaarse vlaktes op die oostelike grens. Tussen-in lê golwende heuwels, koel woude, pragtige valleie en die mere van die Salzkammergut-gebied. Van die mees romantiese dele ter wêreld is die Wachau in die Donou-vallei wat bekend is vir sy wingerde, vrugteboorde, kastele en middeleeuse dorpies. Die Vorarlberg provinsie bied 'n besondere ervaring in die natuur met die vlaktes van die Rynvallei, die betowerende Bodensee en die groen heuwels van die Bregenzwoud om te geniet. [Oostenryk] [stap] [fietsry]

Skotland

Skotland is 'n land soos geen ander as dit by fietstoere kom nie. Ons pakkette bied meer as genoeg tyd om hierdie land van heuwels en valleie, mere en strande, mites en geskiedenis te ontdek terwyl jy rustig op jou fiets langs stil paadjies ry. Indien jy dink Skotland is nie 'n land om met jou fiets te ontdek nie, kan ons jou verkeerd bewys! Ja, daar is heuwels en berge, maar nie te veel nie. Die roetes loop langs riviere en deur dale. Somtyd is dit nodig om van een dal na 'n ander oor te klim, maar daar is altyd die beloning van 'n manjifieke uitsig en 'n opwindende afdraende! [Skotland] [fietsry]

Spanje

Spanje - die land van siëstas, troebadoere, rooi wyn en stiergevegte, die flamenco en nog soveel meer. Nie net is Spanje een van die lande met van die mooiste strande ter wêreld nie, maar dit is ook bekend om sy unieke argitektuur en beeldskone kunswerke. Lank na jou eerste glas sangria sal die diversiteit van hierdie Europese land jou nog bly verras - 'n kenmerk van dié land wat altyd interessanthede en 'n genotvolle ervaring aanbied. [Spanje] [stap] [fietsry]

Switserland

Switserland is 'n land met fassinerende kontraste : Alpynse streke met gletsers en sneeubedekte pieke, kristalblou mere, eindelose groen valleie, asemrowende bergpasse, klein dorpies teen die berghange en kosmopolitiese stede. Die land bied 'n verskeidenheid van lewenswyses, gebruike en natuurskoon wat ongeëwenaard is. Ons toere is beplan om jou met 'n rustige pas na van die mooiste uitsigte en panoramas te bring langs interessante roetes. [Switserland] [stap] [fietsry]

Oor die grense

Verskeie van ons roetes sluit meer as een land in. Vier lande kom bv. byeen by die Bodensee en dit is dus die ideale beginpunt vir uitstappies na Duitsland, Switserland, Liechtenstein en Oostenryk. Vanaf Salzburgerland in Oostenryk kan jy 'n stap- of fietstoer neem na Berchtesgadener Land in Duitsland of omgekeerd en van Switserland kan 'n mens per fiets ry na Oostenryk. Twee bekende stede in Holland en België is die begin en einde vir 'n boot-en-fietsvakansie. Die fietstoer "Hongaarse Rapsodie" verbind drie wêreldstede langs die Donou-rivier: Wene, Bratislava en Boedapest. [Oor grense] [stap] [fietsry]

 
     

Posbus 17054 Groenkloof 0027 Suid-Afrika
Broderickstraat 268, Groenkloof, Pretoria, Suid-Afrika
Tel: +27 (0)12-460-8382 Fax: +27 (0)12-460-1843

e-pos: info@bikeandhike.co.za

Webontwerp (c) Papirus